Vir Ernst
Niks sal ooit weer wees soos dit daardie somer was:
die water van die Spiegelgracht lê swart soos glas;
die brûe, boë, bome en lampe ry op ry
wieg lui-lui heen en weer as n bootjie daaroor gly;
en deur die mis wat instoot van die see terwyl
die skemer teen die gewels styg, klink vér en yl,
asof gesprinkel, n wysietjie uit n toringklok.
Maar dis reeds oorlog! Dié besef tref skielik met n skok!
Ons wis dit séker n herfsmiddag, later, toe eindelik
ons skip die oop see kies en ons n laaste blik
vergun word van die kus die strand, die kaal, wit duin
en n vuurtoring, donker, teen die donker, lae kruin;
en toe, n kwartiertjie later, in die Noordsee, mis ons boot
rakelings n myn wat los dryf in die see en óns die dood.
Ons vaar dan verder: n helder driekleur aan die mas
Maar niks sou ooit weer wees, soos dit daardie somer was.